Kappertjies

Kappertjies is seker die mees onselfsugtige plante op aarde – hulle gee in oorvloed en neem amper niks.

Hier is so ‘n paar redes waarom jy Kappertjies in jou tuin moet hê:

 

Kappertjies is eetbaar – elke stukkie daarvan. Die blare is ‘n natuurlike antibiotika, as my keel seer is knibbel ek aan so paar van die groot blink blare wat effens soos pepper smaak en kort voor lank is my keelseer weg. Die geel, oranje, rooi, wynrooi en beige blomme laat enige slaai lieflik lyk en smaak.

Kappertjies lok insekte weg van jou ander plante af so dis ‘n goeie idee om dit naby of in jou groentetuin te plant.

Dit is verspot maklik om Kappertjies te plant. Hulle saai hulself nogal, so as jy nie dit sommer wild, enige plek in jou tuin wil laat groei nie, is dit dalk beter om hulle in houers te saai.

Kappertjies groei in die son, maar in hittige Suid-Afrika hou hulle van so bietjie skaduwee vir ‘n rukkie van die dag. Hulle verkies eintlik swak grond bo baie vrugbare grond – so sal die plant meer blom en minder blare vorm.

Saai die saad in die lente direk in die grond en wag vir die wonderwerk. Hulle het nie baie water en geen voeding nodig nie.

In die Kaap groei hulle wild langs die paaie. In my tuin in Pretoria is daar reg deur die jaar Kappertjies omdat ek hulle los om hulself te versprei soos hulle verkies. So elke jaar of twee saai ek ‘n ekstra pakkie saad iewers om hulle aan te help, maar die staande reel in ons tuin dat geen Kappertjie ooit uitgetrek sal word maak nie (maak nie saak waar hy opkom nie), veroorsaak dat daar basies altyd iewers ‘n vrolike, bontspul oor iets rank.

 

Plante

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *