Tuinnatspuitgedagtes #2

deur Annelise

Ek het vandag rose in my tuin gepluk. My rose sal nie kompetisies wen nie. Eintlik wou ek nooit spesifiek rose gehad het in my tuin nie omdat ek gedink het dis moeilik om hulle suksesvol te groei, maar toe loop ek verby rose wat by die boeremark verkoop word, en kon ek dit nie weerstaan nie. Die een roos in my tuin se naam is Happy Birthday en dis ‘n malle mengelmoes van rooi en geel. My wit Iceberg rose blom reg langs my stoeptrappie, sommer regdeur die jaar. Ek het ‘n paar bosse bloedrooi rose omdat ek eendag in die Spar ‘n bos gekoop het sodat my seun dit kon afneem vir ‘n fotografieprojek. Daardie bos is in drie dele in my tuin geplant en al drie plante staan al hoër as my middel en blom aanhoudend.

Die bossie rose wat ek vandag gepluk het is “imperfect.” Dit het gisteraand gereën so daar is modderdruppels op die wit rose. Ek het dit skaars langs my rekenaar neergesit toe die eerste blare al begin afval. (Blare wat op die tafel onder die blompot lê is vir my vreeslik mooi.) Maar vir my is die bossie mooier as enige wat ek sou kon koop omdat dit MYNE is. Ek ken die geskiedenis van elke plant. Ek weet dat gogga’s dit aan die begin van die jaar gevreet het en ek weet hoe lank dit gevat het voor ek my eerste geel roos kon ruik.

Soms dink ek dis vir my die belangrikste deel van my tuin – die geskiedenis en herinneringe wat daarin opgesluit lê en wat net ek ken. Ek kan nie dink dat ek ‘n tuin kon erf en so sterk daaroor voel soos ek oor die tuin voel wat ek self jare gelede uit die veld begin maak het nie. Vir my is dit die feit dat my eie hande hierdie plante geplant het, dit natgespuit en opgepas en daaroor gekoer het, juis wat my tuin myne maak.

Geen blom is vir my so mooi soos een wat ek sien oopgaan het nie, geen roos se geur so soet soos een wat ek opgepiep het nie, geen boom se skaduwee so koel soos die een wat eens op ‘n tyd kleiner as my eie skaduwee was nie.

Voel jy ook so oor jou tuin?

 

Tuinstories

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *