Ek verstaan tuine

deur Muurblommetjie

Ek verstaan ook tuinmaak. Ek verstaan dit soos ek die Skepping verstaan. Soos ek wolke en die see en berge en vlaktes verstaan. Want tuine is plante en bome en gras en wind en sade. Dis blomme en blare en koelte. Sonskynkolle en klippe. Bye en skoenlappers.

Tuine is afstammelinge. Bietjies-bietjies kindertjies van Moeder Natuur.

Dit bied plek vir ou herinnerings. Dis die stomp wat van die ou huis se groot tuin saamkarwei is na die nuwe piepklein tuintjie vol bourommel. Dit vind dalk ‘n plekkie – sigbaar uit ‘n kombuisvenster. Miskien rus ‘n waterbak daar-op waarin die voëltjies net soos in die geliefde ou plek kom plas en drink.

Tuinmaak is soms arm wees, maar steeds plante uitruil. Dis beplan en teken en droom. Dis pik en spit. Dis klippe wegry of klippe inry. Dis bolle plant. Dis Namakwaland se madeliefies saai al is daar niks anders in ‘n haaikaal nuwe erf nie. Dis dankbaarheid en blydskap vir elke stukkie nuwe lewe in die tuin.

Ek verstaan dat sonneblomme hul koppe na die son draai, want ek wil ook winterstyd buite in die son sit en my stoel aanhou draai om die son op my lyf te voel. Ek wil soos ‘n gousblom versadig van geel en oranje wees. Ek wil soos ‘n heuningblommetjie ‘n aangename geur om my versprei. Ek wil soos gassade waai in die herfswind. Ek wil die bye in my beddings hoor zoem.

In die huis word ek ‘n grotmens. Binne is te veel onverstaanbare dinge soos rekenaars en hardeskywe vol databasisse met formules. Dis binêre kodes en programmeringstaal. Dis nodig vir sosiale media en sosiale kommentaar en om gesprekke met mense na wie jy verlang oor wi-fi te voer. Dis om met ander mense te stry. Dis om van die huis af te werk. Dis om te lees. So weet jy dan dat die pestilensie van ons tyd op elke uur van elke liewe dag om die land se hoeke orkaan en fluit en jou dalk (hopelik nie) wil gryp en grond-in waai.

Maar jy is taai en geduldig. Want jy verstaan mos tuine en tuinmaak. As jy so gelukkig is om ‘n tuintjie of drie potte malva’s op jou balkon of buite teen jou sinkhuisie se muur te hê, dan verstaan jy dit. Dan kan jy op ‘n klip of ‘n bankie sit en planne maak. Nuwe drome droom. Jy kan jou plante met ‘n emmer of ‘n gieter natgooi en jouself verplaas na die hart van ‘n goudgeel gousblom.

Tuine is hoop, weggesteek in beddings en kompos. Dis verwagting verdwerg in waterdruppels op blare wat die lewe rondom dit weerkaats. Al vergaan tuine en al verbleek plante deur ryp, droogte of nalatigheid, is elke tuin ‘n stukkie droom wat onsterflik word deur skilderye of foto’s.

Of dalk net in iemand se onthou van pik en sweet en plant. Kinders wat in die tuin speel en lag. Sagte gedeelde ure in die sonlig of skemer. In die herinnering aan die vreugde en voldoening van nuwe groei. Skepping

Tuinstories

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *