Oor ons

Tuinmaak

Tuinmaak maak ons gelukkig. Wetenskaplikes het bevind dat kontak met grond en spesifieke bakterië wat in die grond voorkom (Mycobacterium vaccae) die vrystelling van serotonien aktiveer. Serotonien is die “happy” chemiese stof in jou brein.

‘n Ander studie fokus weer op dopamien  – nog ‘n “happy” chemiese reaksie in jou brein. Die studies het bevind dat ons breins dopamien afskei as ons produkte uit die tuin oes. Die navorsers se hipotese is dat dit deur ‘n proses van evolusie ontwikkel het toe die mens 200 000 jaar lank kos versamel het. Dopamien het die mens eufories laat voel wanneer hulle kos ontdek het en (saam met die hongerpyne 😉 ) aangemoedig om weer te gaan soek. Dopamien word blykbaar vrygestel wanneer jy die “kos” (soos vrugte, sade, groente, bessies) sien, ruik of pluk.

As daardie nie alreeds twee fantastiese verduidelikings is waarom tuinmaak een van die gewildste stokperdjies in die wêreld is nie, het ons nog so ‘n paar versamel:

  • Dis goeie oefening.
  • Jy kry Vitamien D.
  • Dit is ‘n goeie manier om spanning te verlig.
  • Jy kan jou kreatiwiteit uitleef.
  • Jy kan jou eie groente en vrugte kweek.
  • Dit maak ‘n verskil aan die wêreld.
  • Jy verfraai jou omgewing.
  • Jy sal nooit verveeld raak nie, want daar is altyd iets om te doen.
  • ‘n Tuin is ‘n terapeutiese omgewing.

Oor tuinmaak – een van die mees gewilde stokperdjies in die wêreld – kan amper nie meer iets nuuts geskryf word nie. Daar is miljoene boeke, tydskrifte, websites, blogs en Facebookbladsye oor honderde aspekte van tuinmaak.   Daar is ook duisende goed wat mens kan sê oor honderde onderwerpe en alles sal nog onder tuinmaak val.

So waarom NOG ‘n tuinmaak webwerf?

Sommer net omdat elkeen steeds uniek is. Soos daar duisende soorte blomme is en elkeen van die ander verskil in kleur en vorm en tekstuur en geur en karakter en mens almal in jou tuin wil hê, net so dink ons nie nog ‘n blommetjie in die tuinmaak-tuin sal onwelkom wees nie. Watter tuinier het nou al ooit ‘n blom verwerp? J

By Tuinmaak wil ons in Afrikaans oor alles van tuinbou praat. En ons wil hê jy moet saam gesels. Ons het ‘n afdeling waarin ons Tuinmaakstories wil  deel. Stuur gerus vir ons jou storie by tuinmaak.Annelise@gmail.com

Intussen is hierdie die saadjie. Ons hoop dat hy nog groot sal groei met baie takke en sommer bloeisels in al die kleure van die reënboog. Net miskien word hierdie jou gunsteling tuinbouhoekie. Gaan soek ons gerus ook op Facebook.

Ons onderneem om elke weeksdag vir  ‘n jaar lank iets te pos sodat daar lekker baie inhoud in die argiewe kan begin lê. Enige idees of kommentaar sal waardeer word. Kom groei saam in ons tuin.

Vriendelike groete

Annelise