Gat en al

deur Muurblommetjie

Ek was die aand alleen by die huis. Dis lank gelede, voor die dae van selfone, omheinde erwe en buurtwagte. Voor alarms en hek-interkoms. Alleen is alleen, soos in stok. Eensaam in my koue kombuis sit en eet ek langtand aan my karige aandete. Karig, omdat ek te lui is om net vir myself te kook.

Dis reeds donker. Die huis is grafstil. Meteens is daar ʼn harde en dringende klop aan die kombuisvenster reg agter my kop. Ek skree, soos altyd wanneer ek skrik: “O, jou hél!” en soek na iets om iemand mee te slaan, want my tweede impuls is om dadelik te klap. Ek vlieg op, stamp my knie teen die houttafel se rand en strompel-val tot in die gang.

Dit kan net ʼn skelm wees! Ordentlike mense klop aan die voordeur of lui die voordeurklokkie. Minder ordentlikes soos familielede loop sommer by die agterdeur in. Net kroeks klop teen kombuisvensters. Ek staan bewend in die gang.  Wat moek ek doen? Die erf is groot, niemand sal my hoor roep nie.

Daar klop die persoon weer. Nottedȇm gaan ek venster toe om te kyk.  “Wie’s daar?” roep-vra ek bewerig.

Geen antwoord nie. Net nog ʼn dringende klop.  Harder hierdie keer. Genadiglik lui die telefoon. Ag, hoe wonderbaarlik, tog! Asof so bestel . . .

“Hallo,” hyg ek in die mondstuk. “Help . . . “

Dis my man wat  alweer in anderland is. Ek vertel hom van my verskrikking, die aanhoudende geklop-klop-klop teen die kombuisvenster, soos iemand wat onder die grond lewend geword het en benoud aan sy kis se binnekant klop.

“Gaan kyk,” beveel hy. “Loop versigtig nader en loer deur die venster. Maak seker niemand kan jou sien nie.”

“Maar die lig brand.”

“Sit hom af.”

“Maar . . . maar …”

“Ek sal aanhou. Kom vertel my wat jy sien.”

“Maar jy sit in Rusland! Hoe lank kan jy aanhou? Sȇ nou ek word ver . . .”

“Gaan net!” raas hy onsimpatiek uit die veilige verte.

Ek skakel die  ganglig en die kombuislig af en bly staan  totdat my oë die duisternis gewoond is. Daar klop die bliksem weer! Amper hol ek weer terug kamer toe, foon toe. Maar, nee! Ek laat my nie in my eie huis terroriseer nie.

Ek sluip nader, my hart in my keel. Loer versigtig deur die ruit. Meteens is daar ʼn wilde fladdering en toe, reg voor my neus, kap-kap ʼn kuifkophoutkapper astrant teen die ruit.

Dis glo die gewildste tuinvoël in Suid-Afrika. Die geel bors, die ou geel kuifkoppie, swart en wit veertjies om die nek en op die vlerke.

Crested Barbet, noem die Engelse hom. Die wetenskaplike naam is Trachyphonus vaillantii. Daardie aand het ek hom baie ander name genoem, maar nie een van hulle was besonder liefderik nie.

In die stede lok ons hulle na ons tuine. Ons maak ʼn palmstomp of wat dit ook al is wat by die  kwekery te koop is, teen ons huis se buitemure of teen ʼn boom vas. Nie lank nie of  ʼn houtkapper-egpaar trek in, oortuig daarvan dat hulle die beste eiendom ter wȇreld met hulle eie skerp kraalogies  raakgesien en vernuftig aangeskaf het. Gat en al.

Ek sweer hulle kyk hoeka uit die hoogte langs hul snawels neer op hulle kollegas wat nog die eko-vriendelike, natuurlike manier van huisbesetting gebruik. En miskien kyk hulle ook met ʼn glinstering in die oog na hierdie bang vrou wat een aand deur een van hulle spesie behoorlik die skrik op die lyf gejaag is.

Tuinstories

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *