Heupjig en ego-pyn

deur Muurblommetjie

Straataf van my is daar ‘n pragtige tuin – ‘n ware feetjietuin. Die eienaar van hierdie tuin en haar fikse, jong tuinwerker is albei ewe entoesiasties oor tuinmaak en takel gereeld iets nuut en opwindend.

So bied ek toe so ewe buurmanskaplik aan om tydens hulle Kersvakansie die tuin soms as dit nie genoeg reen nie te gaan natgooi. Die Desemberson kan ongenadig wees en plante binne twee dae verskroei. Hulle het nie ‘n besproeiingsstelsel nie.

Ek hou daarvan om tuin nat te spuit. In my klein tuintjie is daar weinig geleentheid daarvoor. Ons gryswater word met bekers uit die houer geskep en oor die plante se wortels gegooi. Tenkwater hewel heuwelaf teen die erf se skuinste om die broodnodigste te benat.

Een bewolkte oggend pak ek vir my ‘n sak vir die natgooigeleentheid. My selfoon moet saam, ook my Kindle om rustig te sit en lees terwyl ek met die ander hand ligweg die arme droë plante natsproei. Miskien kan ek ‘n lekkertjie suig wanneer my keel droog word. Ag, hoe salig sal dit nie wees, hoe goed sal dit my nie laat voel om iets vir my vriende te doen en vir hulle gemoedsrus te gee dat hulle tuin in veilige hande is nie. Dopamien bruis byvoorbaat deur my are by die gedagte aan my goeie daad.

Die eerste hindernis kom reeds by die straathek waar die kat my verwelkom. Staan ek, staan sy. Maar begin ek loop, dan regs, aweregs sy tussen my bene deur. Sy kruis aanhoudend die pad voor my, selfs teen die relinglose trappe af waar ek om lewe en dood aan my skouersak klou, asof dit my sal help balanseer. My vervangde heup skwiek met elke tree wat ek afklim.

Dis inderdaad ‘n tuin vir feetjies en kabouters. Of vir baie klein elfies. Bome buig laag oor die beddings, asof my buurvrou dit nie oor haar hart kan kry om ooit ‘n enkele tak te snoei nie. Kunstig vloei ‘n “rivier” van wit klippe afdraend tot by die kraan.Tussen die wit spoelklippe lê ronde plaveistene met pragtige blou mosaiekteeltjies daarop geplak, seker deur die tuinwerker. Te mooi vir woorde.

Maar waar trap mens om by die kraan aan die onderpunt van die rivier uit te kom? Ek gly met my plat sandale op die teeltjies. Die kat is weer al om my voete. Gebukkend, soos ‘n spelonkbewoner, bekruip ek onderdeur die takke die kraan. Spieeltjies wat met vislyn van die takke af hang, gryp my om die nek. Onder die skemer bosse langs die kraan maak ek ‘n gesteelde straatnaambord uit. Elm Street. Nou toe nou.

Ek maak die kraan oop.

Reg langs my begin die tuinslang opeens soos ‘n dol hond rondspring. Die groen slang krul met sierlike esse om my weerlose liggaam. Dit spuit my bril en klere watersopnat. My skouersak wat ek doer ver weg op die grasperk parkeer het, kry ‘n wilde blerts. My Kindle en selfoon is daarin!

Ek kry eindelik die giftige ding aan sy groen nek beet en worstel blindweg met my bedruppelde bril terug na die bopunt van die rivier. Hier en daar kruis ek die rivier oor die lewensgevaarlike, nat plaveiklippe. Ek stoei met die wurgspieeltjies en bereik darem eindelik die grasperk.

Nou weet ek: Van rustig sit en tuin natgooi gaan daar geen sprake wees nie. Die stoele staan doer eenkant. Ek kan die bokspringende tuinslang nie vir ‘n oomblik los om ‘n stoel te gaan haal of by my skouersak uit te kom nie.

So staan ek toe maar die heel tyd en gooi die droogste plante nat. Geleidelik raak ek rustig. Dit kon erger gewees het, troos ek myself. Die kat is ten minste net so bang vir die waterspuwende groen slang. Sy het weggehol.

Lang storie kort: Nie lank nie, of ek hoor die voëltjies vrolik in die bome tjirp. Die blomme buig dankbaar hulle koppe vir elke nat spatsel water. Die kat bly op die stoep. My bene jeuk nie te veel van die nat langbroek nie. My heup skwiek net wanneer ek buk om die tuinslang se nek om te draai om dit verder te sleep.

Die storie, kort of te not, het nie ‘n gelukkige einde nie. My terugtog na die kraan was erger as my daarheentog. Toe ek op die gladde plaveiklip gly, moes ek na die spieeltjies gryp om my balans te herwin. Die vislyn het gebreek. Die plaveisteen het nie gebreek toe ek daarop val nie. My heup skwiek nie meer nie, maar die oorkantste bal-en-potjie toon nou neigings van heupjig. My ego ly kwaai aan aangesigspyn. En my buurvrou verstaan nie waarom ek haar feetjietuin deesdae vermy nie.

Tuinstories

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *