Jakobregop – Verlief op Eenvoud

Dit is onmoontlik om in die herfs deur Pretoria se omgewing te ry sonder om Jakobregop-blomme in alle kleure en groottes orals in die veld te sien. Net buite die ingang van die Groenkloof Natuurreservaat laat die groot oranje blomme dit lyk asof die veld brand.

  

Zinnia (of Jakobregop in die volksmond) kom van Mexiko af en groei daarom baie goed in die sonskyn. Hulle hou egter nie van droë toestande nie. Mens kan dit hierdie jaar sien. Die groot, soms tot skouerhoogte blomme wat geil langs die paaie groei, staan juis langs riviere en in holtes en blom spesifiek nou, drie weke na ‘n oorvloed reën, baldadig.

Verlede winter het ek ’n paar handevol saad in iemand se tuin geoes en heeltemal vergeet wat dit was. Januarie het ek dit in potte gesaai en oorgeplant toe hulle ongeveer ses sentimeter hoog was – steeds sonder om te weet wat ek besig is om in my tuin te plant.

Vandag staan die mooiste klein, fyn blommetjies in alle kleure waaraan jy kan dink in daardie bedding. Die bedding is in die skaduwee en dit het baie gereën, so dis dalk waarom hulle klein is, maar ek kan nie glo hoe baie kleure daar is nie. Sommige het net een sirkeltjie blare en ander het drie lae. Beslis ‘n blommetjie wat nie in ‘n kassie gedruk wil word nie. 😉

 

 

Ons ouma’s het hierdie blomme in hulle tuine gehad. Daar is iets lieflik aan die eenvoud daarvan. Eenvoudige blommetjies, maar in al die kleure waaraan jy kan dink. Blykbaar is die kleure helderder as hulle in sonlig groei en dowwer as hulle in die skaduwee groei.

Zinnia kan maklik van saad af gekweek word. Saai saad elke ses weke van vroeg in die lente af. Die saad ontkiem binne twee tot vyf dae. Hulle floreer in die son en goed gedreineerde grond en blom van die middle van die somer af. Hulle hou vir weke aan blom.

 

 

Plante

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *