Tien soorte plante wat elke tuin behoort te hê

Bome

Witstinkhoutboom

Bome is die belangrikste plante in jou tuin omdat hulle die grootste, mees prominente en mees permanente plante in jou tuin gaan wees. Elke tuin het ‘n boom nodig soos elke huis ‘n moeder nodig het.

Kremetartboom

die kemetartboom is ’n boom
hy laat nie sommer mense in hom klim nie
hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop
die olifante het hom bygekom sy bas gestroop
dit laat hom ongeroer
die kremetartboom is ’n boom
die ape mag maar in hom klouter
baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer
hy laat die slang en vlermuis in hom boer
die leeus mag aan sy basis pis
hy bly maar wat hy is
die kremetartboom is ’n boom
diep in sy ou-ou sagte bruin ou bas
het harteloses hulle éie harte uitgesny
dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye
vol van hulle blommesoet gemaak
die spinnekoppe span hul sterrerak en radar daar
die kremetartboom is ’n allerboomste boom
hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug
meer aarde toe terug en ín as in die lug
mens sien hom as hy oud is raker raak
vol rimpels sag vol vog en sap
geen ander boom lyk naasteby
so enig bomelik soos hy
alleen die Groot Voet kan hom trap
sy swaar liggaam totaal toemaak
die kremetartboom is my boom

– TT Cloete

 

Struike

Hibiscus

Struike is die ruggraat van ‘n tuin. Die pa? Hulle leef lank en het min aandag nodig. Jy kan hulle plant vir hulle blomme en geure, en blare en kleure.

 

3. Meerjariges

Daglelies

Meerjarige plante is plante wat vir meer as een jaar lewe. Hulle is blomplante wat in die winter afgaan, maar weer die volgende seisoen uitloop. So blom hulle jaar na jaar oorvloedig en vermeeder hulle hulself.

 

 Grondbedekkers

Pennyroyal

 

Grondbedekkers is mooi, dikwels kleurvol en ruik ook soms sommer lekker as ‘n mens daarop loop. Elke tuin het probleemhoekies waar die gras nie wil groei nie soos in die skaduwee,  in swak grond of teen styl walle. Grondbedekkers is die pragtige oplossing.

 

Rankplante

Black-eyed Susan

 

Rankplante gee kleur en agtergrond prag sonder om baie plek in te neem. Hulle kan gebruik word om ‘n lelike muur weg te steek of om oor iets te rank vir skaduwee of ‘n fokuspunt. Sommige, soos Jasmyn, ruik ook heerlik.

 

Jaarplante

Pronkertjies

 

Jaarplante is die vrolike kindertjies van die tuin. Dis die blommetjies wat kleur bring. Hulle word jaarliks gesaai en lyk dramaties wanneer hulle in massa’s groei. Daar is so baie om van te kies dat jy elke jaar ‘n nuwe effek in jou tuin kan hê!

 

Inheemse plante

Clivia’s

 

Suid-Afrika is ‘n tuin met die grootste verskeidenheid inheemse plante in die wêreld. Ons inheemse plante is die beste vir ons klimaat. Hulle oorleef droogtes ook dikwels beter.

 

Konifere (Sagtehoutbome)

 

Johannesburg Gold

 

“Conifers” is al lankal nie meer net begraafplaasplante nie. Hulle is gehard en die meeste hou van die son. Hulle bring immergroen kleure na jou tuin toe omdat mens dit in al die skakerings van groen, silwer, grys, geel, goud, blou , bruin en brons kry. Hulle het ook baie verskillende vorms wat jou tuin interessant maak.

 

Vormplante

Olifantore

 

Gebruik vormplante om fokuspunte in jou tuin te maak. Dit kan visuele ritme skep of selfs iets anders beklemtoon of jou oog na ‘n spesifieke punt toe lei.

 

Bolplante

Dahlia’s

 

Jy kan regdeur die jaar blomme in jou tuin hê as jy bolle gebruik.  Jy kan baie bolle sommer in die grond los vir ‘n paar jaar.

 

 

Rosa Rosarum

(A.G. Visser)

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag.

Kom in die soel someraande en luister

– Wanneer die nagwind hul drome verklaar –

Na die veelvuldige blommegefluister,

Bloesem en bloeisel en blad altegaar!

Kom waar die lelie – die blanke, die reine –

Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,

Blou miosotis – die slanke, die kleine –

Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.

Kom as die maanblom – wit sy en satyne –

As ‘n vorstinne verskyn in haar prag

Onder die wierook van roos en jasmyne –

Skoonste juweel op die bors van die nag!

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –

As sy in glorie van songloed verwelk.

Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange

Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;

Saans koer die tortel sy lied van verlange

Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.

Kom in die aand en geniet van haar geure:

Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;

Kom in die môre en kies van haar kleure:

Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

Plante

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *