Tuinnatspuitgedagtes #3

 

Ek dink soms aan seisoene in die tuin en seisoene van die lewe terwyl ek my tuin staan en natspuit. Ek wonder, in watter seisoen sal ‘n tuinier wil doodgaan? Net soos Guinevere vir Lancelot in elke seisoen beeldskoon is, is daar nie regtig ‘n seisoen waarin ‘n tuin vir die tuinier nie mooi is nie.

 

 

Dis logies dat ‘n tuinier nie in die lente sy tuin vir ewig sal wil groet nie. Dis tog die mooiste, mooiste maand wanneer jou tuin bont en nuut en vars is. Dis die seisoen van bloeisels en die soet geur van Jasmyn, Jakarandapers en Bloureën en sappige vrugte. Dis die seisoen van lewe.

 

Oktobermaand – Leipoldt

Viooltjies in die voorhuis –

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober,

die mooiste, mooiste maand!

Dan is die dag so helder,

so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke

die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

die asvaal ou Karoo.

Dit is die maand Oktober!

Die varkblom is in bloei;

Oor al die seekoegate

is kafferskuil gegroei;

Die koppies, kort gelede

nog soos ‘n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis

hul mooiste voorgehaal.

Dit is die maand Oktober!

Die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie

is almal nuutgeboen;

En orals in die tuin rond

ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering,

lemoen en appelkoos.

Al was die dag soos yster

lank in die vuur gesteek,

Die varings in die klofies

deur hitte geel verbleek,

Tog, as die son daar onder

agter die berge gaan,

Dan word oor heel die wêreld

die mooiste geur geslaan.

Dit is die maand Oktober!

Die kokkewiet is uit;

Boomsingertjies en kriekies

dié hoor jy orals fluit;

Fiskaal is op die oorlog –

daaronder by die sluis,

Daar is ‘n dor ou doringboom

sy spens en sy kombuis.

Dit is die maand Oktober!

Ek dink die mense vier

Vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme,

as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier

of heerliker verwag?

Ek is nog in Oktober!

My tuin is nog so groen,

So wit met al wat mooi is,

met bloeisels van lemoen,

So pragtig in die môre,

so heerlik in die aand!

Ek is nog in Oktober,

die mooiste, mooiste maand!

Wat gee ek om die winter?

Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit as ons later

weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober,

die mooiste, mooiste maand,

Met elke dag so helder,

so pragtig elke aand!

Viooltjies in die voorhuis –

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

 

 

 

Niemand wil die lewe in die somer vaarwelroep nie. Veral nie ‘n tuinier nie! Dis wanneer jou tuin deur die ander mense in jou lewe gebruik word. Somertyd is die tyd van silwer spreiers in die son en braai. Dis kinders kaalvoet op jou groen grasperk en krieket in jou voortuin. Somer is klein  dogtertjies met Plumbago’s blommetjies-oorbelle, voëls wat bad onder die boom se skaduwee en lang-lang-lang goue skemers.

Somer – Johannes Kerkorrel

hier kom die somer, die son
hier kom die somer, die son
dae soos heuning
warm en lou

branders rol in by die see
branders rol uit by die see
en hoog in die lug
dryf die meeue rond

ons kan gaan sit by die karosel
onder ‘n sambreel al die skepe tel
later gaan ons ver oor die wit sand loop
en kyk as die son sak in die blou see …

o-

stadig die somer
stadig die somer
en hoog in die lug
dryf die wolke rond

hier kom die somer, die son
hier kom die somer, die son
dae soos heuning
warm en lou

branders rol in by die see
branders rol uit by die see
en hoog in die lug
dryf die meeue rond

ons kan vir on sdalk ‘n eiland koop
niemand sal weet ons het weggeloop
later gaan ons ver oor die wit sand loop
en kyk as die son sak in die blou see

o-

stadig die somer
stadig die somer
en hoog in die lug
dryf die wolke rond…

 

 

 

Herfs. Ek het juis hierdie mymeringe begin terwyl ek die Namakwalandse Daisy-saadjies natgespuit het. Herf is wanneer die blare van my bome ‘n rooi, geel en bruin tapyt in my tuin oopgooi. Later word dit droog en knars dit onder my voete wanneer ek daaroor loop. Herfs is wanneer die Boston Ivy lyk asof dit aan die brand is in die laatmiddagson. I’f ever I would leave you, how could it be in fall?

 

herfs – Marlise Joubert

vandag staan die wolke skeef

druppende kerswas oor die land

ek wil dit nie verlaat nie

in die tuin ‘n geveg tussen vinke

verwers met kwasse en lere poleer

my mure met die kleur van sand

niks hiervan wil ek opgee nie

hoe laat is die groot verlaat

en sal jy later in jou eensaamheid

alle gedagtes oor ons liefde prysgee

vandag vlam die bome herfs teen die berg

alle vensterrame staan oop in die lig

vir die vars vernis om droog te word

          

dit wil ek nie agterlaat nie

 

 

 

So dit moet winter wees? Winter is tog die seisoen van koue en dood. Dit behoort die maklikste te wees vir ‘n tuinier om in die winter te sterf. Maar ‘n tuinier weet dat die winter die seisoen van hoop is. Dis die seisoen van belofte. Ons weet van al daardie saadjies en bolle wat wag om weer uit te loop. Ons weet van die bome wat diep in die aarde in strek en hoog na die hemel toe rek om hulle litte reg te maak vir die nuwe blarejas wat hulle een van die dae weer gaan aantrek. Die winter is soos daardie lekkertjie in die papiertjie of die toe bottel wyn. Ons weet hoe heerlik dit gaan wees wanneer ons dit oopmaak. Miskien is die winter die moeilikste seisoen van almal om totsiens te sê, juis omdat ons net vir nog een keer die wonderwerk wil sien.

 

Winter – NP van Wyk Louw 

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

 

Ag nee wat, geen seisoen sal werk nie. Dis seker waarom ons tuinmaak, want as jy jouself in ‘n tuin ingewerk het, dan gaan jy in elk geval nooit regtig weg nie. 🙂

Tuinstories

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *